Dapper Angelique veg teen trane
Date:
Read:
“Dit was die heel eerste keer dat ek hom (mnr. Johan Kotzé) ná my boetie se moord en die aanval op my ma gesien het — dit was vir my baie erg,” het Angelique Bonnette (16) gesê.
Angelique het verlede Vrydag, 10 Februarie, in die heel voorste hofbank in die volgepakte Modimolle-hofsaal gesit waar Kotze (50) en drie medebeskuldigdes, mnre. Andries Sithole (42), Peter Mohlako (34) en Frans Mphaka (38), verskyn het op 17 aanklagtes wat verband hou met die moord op haar boetie Conrad (19) en die gru-aanval op haar ma, me. Ina Bonnette.
Sy het aan Die Pos vertel dit was ook die eerste keer in haar lewe dat sy in ’n hof was.
Aan haar een sy was Conrad se vriendin, me. Kayla Beukes, en aan die ander kant, me. Elize Coetzer, ’n vriendin van haar ma. Die drie het soos al die ander vroue in die hof almal dwarsdeur die hofverrigtinge hande vasgehou. ’n Klippie waarop Conrad se naam en ’n blou kruisie geverf is, was die heeltyd in Kayla se hande.
Me. Ina Bonnette sou die hofverrigtinge saam met Angelique bygewoon het, maar nadat sy die vorige middag net voor twee-uur ’n dreigoproep by die werk ontvang het, is sy deur senior hofbeamptes aangeraai om liewer weg te bly van die hof.
Mnr. Nico de Villiers, ’n vriend van Bonnette, het in die hof vir Die Pos vertel ’n man het Bonnette Donderdagmiddag omstreeks twee-uur by die werk gebel. Hy het glo aan haar gesê: “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou. Ek sien jou, maar jy sien my nie.”
Terwyl ’n horde media-mense voor die hofverrigtinge om die beskuldigdebank saamgedrom het en gewag het dat Kotzé en sy medebeskuldigdes boontoe gebring word, het ’n verslaggewer skielik gevra: “Maar is dit nie Bonnette se dogter nie?”
Skielik het tientalle kameramanne en fotograwe soos een man hul kameras op Angelique gerig. Die dapper tiener het op haar lip gebyt en dit het gelyk asof sy hard veg teen die trane.
Toe Kotzé by die beskuldigdebank instap, het Angelique stip vir hom gekyk. Hy het egter nooit in haar rigting gekyk nie.
Kotzé het verlig opgekyk toe hy sy prokureur, mnr. Rehan Coetzee, in die hof gesien het. Coetzee is die enigste mens met wie Kotzé tydens die hofverrigtinge oogkontak gemaak het. Hy het ook glad nie met sy medebeskuldigdes gepraat nie. Kotzé was skoongeskeer.
Mense wat hom geken het, het gesê hy het sedert sy inhegtenisneming baie gewig verloor. “Minstens 20 kg en sy rug is ook baie krommer” het een man gesê.
Vriendinne van Bonnette het almal pienk klere en T-hemde met harte waarin haar naam gestaan het, gedra. Die ANC-vroueliga was ook sterk verteenwoordig.
Betogers het buite en binne die hofgebou plakkate rondgeswaai met slagspreuke soos: “Real men don’t kill”, en “Kotzé and his cronies must face the music”.
Landdros Hannes Stoffberg van Modimolle het gelas dat die drie mans wat na bewering deur Kotzé gehuur is om Bonnette te verkrag, nou geïdentifiseer mag word. Hulle het hul baadjies oor hul koppe getrek totdat die fotograwe beveel is om die hof te verlaat.
Voordat die hofverrigtinge begin het, is egskeidingsdokumente in die selle onder die hof op Kotzé bestel.
Nie een van die beskuldigdes het aansoek gedoen om op borgtog vrygelaat te word nie. Coetzee het gesê Kotzé sal waarskynlik later aansoek doen om borgtog.
Mnr. Renier van Rooyen, senior staatsaanklaer by die Modimolle-hof, het namens die staat verskyn.
Die stem van die man wat die dreigoproep gemaak het, is Woensdag teen druktyd nog nie deur die polisie uitgeken nie.


